← Terug na Afrikaans EAT

Lien se Lankstaanskoene

'n Volledige interaktiewe studiegids vir Graad 12 (Afrikaans EAT)

Deur Derick van der Walt

1. Oorsig

Lien se Lankstaanskoene is 'n hartroerende tienerroman wat die verhaal vertel van Marlien ("Lien") Jooste — 'n matrikulant wie se welvarende lewe in duie gestort het nadat haar pa as prokureur trustgeld gesteel het en tronk toe is. Terwyl haar ma in 'n dooswyn-mis verdwyn en die finansies ondergaan, ontdek Lien 'n geheime manier om die pot aan die kook te hou: sy vermom haarself en gaan saans op 'n verafgeleë straathoek bedel. Op daardie hoek leer sy meer oor menswees, vergiffenis en hoop as wat enige skool haar ooit kon leer.

Outeur
Derick van der Walt
Genre
Tienerroman / Bildungsroman
Ruimte
Pretoria (die "jakarandastad")
Tyd van handeling
2005 – 2006
Vertelde tyd
±5 – 9 maande
Verteltyd
±208 bladsye
Verteller
3de persoon, alwetend
Fokalisators
Lien (hoof) & Braam (video's)
Tyd-struktuur
Chronologies, met 13 terugflitse
Hooftema
Vergiffenis, deursettingsvermoë & hoop

Titelverklaring

Die titel verwys na die plat, gemaklike skoene wat Lien by Pep koop vir R38,99 — sy moet immers ure lank op straat staan en bedel. Maar "lankstaanskoene" beteken meer as net praktiese voetwear: dit is die simbool van Lien se vermoë om lank te staan deur swaarkry, vernedering en hartseer. Die woord is 'n neologisme — 'n nuutskepping wat die outeur uit "lank", "staan" en "skoene" gevorm het.

Kort plotopsomming

Lien is 'n teruggetrokke matriekleerling by Hoërskool Jakaranda. Haar ma, Christien, drink elke aand dooswyn om die pyn te verdoof; haar pa sit in die tronk; haar broer Braam ontvlug deur ou gesinsvideo's te kyk. Wanneer Lien haar werk by 'n koffiekroeg en 'n haarsalon verloor, kry sy 'n radikale idee: vermom haarself met 'n pruik en bril, en gaan bedel. Op die straathoek ontmoet sy Tibbey (die Sotho-bedelaar wat haar mentor word) en Roos (die lojale wit mede-bedelaar). By die skool word Lien onverwags vriende met Wouter, Miemie en Hein, en kry sy die hoofrol — Weird Maria — in die jaarlikse meesterstuk. Wanneer Tibbey deur 'n motor getref word en sy bene verloor, en Sproet (die wit-Volvo-man) probeer Lien koop vir seks, moet Lien kies wie sy regtig wil wees. Aan die einde keer Ma terug uit die kliniek, Pa kom uit die tronk, en Lien gaan dramaklas neem aan Tuks.

2. Karakters

Marlien ("Lien") Jooste
Hoofkarakter • Matrikulant

18 jaar oud teen die einde van die roman. Oudste kind. Sarkasties, introvert, intelligent, deernisvol en kreatief. Begin die boek bitter en kwaad oor haar pa se verraad; ontwikkel deur die bedelary, vriendskap en haar toneelrol om mense — insluitend haar ouers — te vergewe.

Christien Jooste (Ma)
Lien se moeder

Werk by die Departement van Binnelandse Sake; klassieke klavieronderwyseres. Vlug van die werklikheid deur dooswyn — Lien noem dit "geel en gelukkig". Verloor haar werk, beland in 'n kliniek, en bewys op die einde aan Lien dat sy nog haar ma is.

Pa Jooste
Pa • In die tronk

Prokureur wat trustgeld gesteel het en 'n vier-jaar vonnis uitdien. "Ek het gedink ek is die slimste en sterkste mens onder die son. Ek was gulsig." Word in die tronk nederig en oud — beplan om ná sy vrylating ander werk te doen.

Braam
Lien se ouer broer

Krullerige swart hare. Ontvlug deur ou tuisvideo's te kyk — hy is die fokalisator van die videotonele. Verstyf wanneer Ma hom druk; bly al hoe meer by sy vriend Deon. Word later 'n model deur die haarsalon.

Wouter
Lien se eerste skoolvriend

Ouers is geskei. Aweregse sin vir humor. 'n Ware vriend wat selfs Ma se kar van die skool af huis toe bestuur nadat sy dronk opdaag. Kry rybewys, koop Bloubul-aandenkings vir Tibbey by Loftus.

Hein Venter
Klasmaat • Lien se kêrel (Naspel)

Fris, hardebaard met blonde krulhare en prominente neus. Speel "Moon River" op mondfluitjie (sy oupa het hom geleer). Sy pa wil hê hy moet prokureur word, maar hy wil konstruksiewerk doen. Bou Tibbey se karretjie gratis. Nooi Lien matriekafskeid toe.

Miemie Spies
"Weird" klasmaat → vriendin

Klein, maer, dik bril, yl haartjies. Wou regte studeer. Wanfunksionele gesin: ma kyk sepies, pa is "in Kaïro". Woon in 'n groot huis teen die berg met 'n kok, Roberta. Vier haar 18de verjaarsdag by Wimpy saam met Lien.

Sally Swanepoel
Klasmaat

Skoolrok is "standaard-skoolnommertjie" (baie kort). Haar pa rook dagga ("báie sterker as Camel Filters"). Word later 'n onverwagte vriendin van Lien.

Tibbey
Swart bedelaar • Lien se mentor op straat

Praat Sotho. Bly in 'n buitekamer by die rolbalklub (werk twee dae per week in die tuin daarvoor). "Entertainer" van die straathoek. Leer Lien om mense in die oë te kyk en dankie te sê. Word in 'n ongeluk getref — albei bene geamputeer.

Roos
Wit mede-bedelaar

Bruingebrande wit vrou met hare in 'n stywe kapsel; haar dogter is 'n gesellin. Lojaal teenoor Lien — jaag Johnny weg toe hy op Lien se hoek staan. Drink nie sjerrie nie. Onderhandel die Spar-bestuurder af tot halfprys.

Tannie Bets (& Oom Faantjie)
Buurvrou

Goedhartige ouer dame wat sop en broodrolletjies stuur, vir Lien werk vind, en hulle deurgaans ondersteun. Weeg by Weigh-Less. Reël later die "ruk by oom Frank en tannie Poppie".

Juffrou Breytenbach
Afrikaans-onderwyseres • Mentor

Dra 'n John Lennon-brilletjie — modieus en eksentriek, nie 'n stereotipiese ou Afrikaans-juffrou nie. Reggeur van die meesterstuk; sien Lien se potensiaal; gee haar die Weird Maria-rol; leen die pruik en bril uit die rekwisietekamer.

Tant Malie
Eienaar van Tant Malie se Tuin

"Moeilike Malie" — die altyd-kwaai eienaar van die koffiekroeg waar Lien kortliks werk en dadelik ontslaan word.

Dirkie & Donovan
Eienaars van Millennium Hair Creations

'n Gay-paartjie ("juig vir die verkeerde span"). Donovan is die baas; Dirkie luister net. Vind Lien se hare "last season". Borg die O/16-krieketspan en help later met Tibbey.

Kuifie (Gerhard)
Jong predikant

Cool predikant met gejelde kuif, denim en T-hemp (later 'n Madiba-hemp). Sy vrou is Elna (wat Lien "Valetjie" noem). Help Lien en haar ma deurgaans.

Sproet / Gordon
Wit-Volvo-man

Sproet-gesig man wat gereeld R50 vir Lien gee, dan probeer haar koop vir seks ná Tibbey se ongeluk. Lien ontsnap, kry skok, en gaan sit in 'n kerk.

Mnr. Bruwer
LO-onderwyser

Gee die beroepsprojek op wat Lien onverwags op 'n nuwe pad sit en haar in 'n groep met Miemie, Sally en Hein dwing.

Johnny
Mede-bedelaar

Bedel om drank te koop. Probeer Lien se hoek vat. Roos jaag hom weg.

3. Temas

4. Belangrike Gebeure

'n Chronologiese tydlyn van die hoofgebeure in die roman:

VOORSPEL
Stom video van die gelukkige Jooste-gesin by 'n swembad. Braam kyk daarna — kontras met die hede.
01
Lien leef in 'n klein woonstel in Pretoria. Ma drink elke aand dooswyn. Hulle eet half-verbrande roosterbrood.
02
Lien haat Hoërskool Jakaranda; ontmoet Wouter by die tandarts; hulle word vriende.
03
Mnr. Bruwer se LO-projek dwing Lien in 'n groep met Miemie, Sally en Hein.
04
Juffrou Breytenbach nooi Lien uit vir die jaarlikse meesterstuk.
05
Lien begin werk by Tant Malie se koffiekroeg — word dadelik ontslaan.
06
Tannie Bets reël 'n werk vir Lien by Millennium Hair Creations. Braam kry ook modelwerk.
07
Lien kry die rol van Weird Maria — 'n keerpunt.
08
Sue-Ellen kom terug van kraamverlof; Lien verloor haar haarsalonwerk.
09
Lien koop plat skoene by Pep (R38,99), leen 'n pruik en bril, gaan bedel.
10
Sy ontmoet Roos en Tibbey. Tibbey leer haar om mense in die oë te kyk.
11
Ma daag dronk by die skool op — vernedering. Wouter bestuur Ma se kar huis toe.
12
Miemie nooi Lien na haar 18de verjaarsdag by Wimpy. Lien vertel uiteindelik die waarheid.
13
Ma word betrap met winkeldiefstal van wyn by Pick 'n Pay; verloor haar werk.
14
Ma word in 'n kliniek opgeneem.
15
Tibbey word deur 'n motor getref — albei bene geamputeer.
16
Sproet (Gordon) probeer Lien koop vir seks. Sy ontsnap; sit in 'n kerk; gaan na Dirkie.
17
Lien beplan 'n karretjie vir Tibbey; Hein bou dit gratis.
18
Mnr. Van Biljon stem aanvanklik teen Tibbey se terugkeer; verander later van houding.
19
Lien besoek Ma in die kliniek. 'n Wit skoenlapper gaan op Ma se hand sit.
20
Lien besoek Pa in die tronk. Hy erken sy gulsigheid.
21
Die meesterstuk word opgevoer. Roos, Tibbey, Hein, Miemie kom kyk.
22
Ma sê by die opvoering vir Lien sy is nog haar klaviermoeder — speel weer.
23
Hein vra Lien matriekafskeid toe.
NASPEL
Video by die see: vyf mense — Pa hanteer die kamera. Lien dra 'n Tuks-Dramadepartement T-hemp. Sy is op universiteit. Hein is by die gesin.

5. Hoofstuk-vir-hoofstuk Opsomming

Die roman bestaan uit 'n Voorspel, 41 hoofstukke, en 'n Naspel. Hier volg kort opsommings:

VOORSPEL
Die swembad-video
Braam kyk 'n stom video van die gelukkige gesin — kontras met die hede.
H1
Geel en gelukkig
Aanddrinkroetine; armoedige kos; Ma loop "nighty night"; Lien sê "ek haat jou" in die spieël vir haar afwesige pa.
H2
Jou standaard-skoolnommertjie
LO-projek met Miemie, Sally en Hein; Lien skryf "prokureur" op haar vorm.
H3
'n Kakofonie van klanke
Ma luister na Prokofiëf; Lien ontmoet Wouter; sy begin by Tant Malie werk.
H4
Die meesterstuk
Juffrou Breytenbach nooi Lien vir die meesterstuk; Braam: "Afrika is wreed".
H5
Lientjie Lieflik
Lien verloor werk by Tant Malie; jong predikant kuier; Lien voel "vyfde wiel".
H6
A change of scenery
Soek universiteitsinligting; oudisie; "bo blink, maar onder stink".
H7
Effens last season
Begin by die haarsalon werk; Donovan en Dirkie; tannie Bets by Weigh-Less.
H8
Weird Maria
Lien kry die rol; Wouter vra of sy haar pa mis — sy verkluim.
H9
'n Rus op die menu
Russiese komponiste; Lien mis haar "vorige lewe".
H10
Iets om die palaat te verfris
Miemie se 18de by Wimpy; Lien voel skuldig oor die steak.
H11
Julia Roberts sonder die mond
Lien en Miemie in die rekwisietekamer — "die meeste pret in jare".
H12
Die traandruppel
Chopin Impromptu; kriekethempies; Donovan "juig vir die verkeerde span".
H13
'n Huis sonder 'n moeder
Lien beplan in die geheim; leen pruik en bril.
H14
A change of scenery (regtig)
Eerste dag op straat; ontmoet Roos en Tibbey.
H15
'n Bottel Energade
Tibbey se filosofie van bedel; bly in 'n buitekamer by rolbalklub.
H16
Die Pussycat Dolls
Hein speel "Moon River" op mondfluitjie; "die dag se buit".
H17
Die afgevaardigde van Tibet
Sproet-gesig dogtertjie in wit Volvo; Roos jaag Johnny weg.
H18
Tee en kaaskoek
Ma daag dronk by skool op — "die laaste strooi"; Kuifie hou preek.
H19
Báie sterker as Camel Filters
Sally se pa rook dagga; Lien en Sally raak nader.
H20
Nuwe mense relax nou hier
Lien besoek ou huis; wit mure herverf; afsluiting.
H21
Sjerrie vir die koue
Hein se "normale" ouers; Roos drink nie sjerrie nie.
H22
Ietsie met chocolate vir poeding
Miemie se huis teen die berg; Lien vertel van Ma in die kliniek.
H23
Die welcome-home-mammie-ding
Ma kom uit kliniek; Lien is kwaad; Tibbey gee raad oor liefde.
H24
Die toppie sonder bates
Lien se 18de verjaarsdag; partytjie by tannie Bets.
H25
Halfprys is halfprys
Roos onderhandel halfprys-bone by Spar; sproetgesig-dogter beledig Lien.
H26
Cheers op Binnelandse Sake
Ma verloor werk weens winkeldiefstal van wyn.
H27
Die town clown
Lien tik valslik 'n afwesigheidsbriefie.
H28
Something for the poor, my koning
Tibbey se ongeluk; Sproet probeer Lien koop vir seks.
H29
Wat is sy van nou weer?
Lien by Dirkie; soek Tibbey; wil ma bel.
H30
Die grafsteensangers
Tibbey in hospitaal — bene geamputeer.
H31
Die corner sonder entertainment
Plan om Tibbey te help; Lien lieg oor "nekbesering".
H32
Iets wat Picasso kon bedink het
Hein se sketse vir die karretjie; Mnr. Van Biljon onbeskof.
H33
Geldig vir dertig dae
Tibbey depressief; rolbalklub neem hom nie terug nie.
H34
Shopping is nie vir sissies nie
Wouter kry rybewys; koop Bloubul-aandenkings vir Tibbey by Loftus.
H35
Werk dinge in Londen ook so?
Tibbey kry karretjie; Lien staan voor kliniek maar besoek ma nie.
H36
Cool, sou ek sê, actually
Miemie se besem-tattoeëring; Tibbey word weer homself.
H37
Koue goed in groot glase
Predikant ontdek Lien op haar bedelplek; haar geheim word ontmasker.
H38
Die ding met die kuif
Sello bedel nie meer nie; Roos is kwaad.
H39
Die besoek (1)
Lien besoek Ma in kliniek; wit skoenlapper; Ma sê sy moet eers haarself vergewe.
H40
Die besoek (2)
Lien besoek Pa in tronk; "Jooste & Jooste"-droom; Pa was gulsig.
H41
'n Bietjie kultuur
Meesterstuk opgevoer; sukses; vriendskap met Hein groei.
NASPEL
By die see
Vyf mense; Pa hanteer die kamera; Lien dra Tuks-T-hemp. Hein is deel van die gesin.

6. Aanhalings

Belangrike sitate uit die roman — met konteks oor wie dit sê en wat dit beteken:

"Ek haat jou ... Ek haat jou." Lien (Hoofstuk 1) — voor die spieël, gemik aan haar pa wat haar gesin se ellende veroorsaak het. Stel die emosionele toon van die boek.
"Geel en gelukkig" Lien — haar eufemisme deur die boek vir Ma se dronk-toestand. "Geel" = dronk. Ironies, want geel tradisioneel = son/geluk.
"Haar goudgeel ma met die less than perfect pitch." Lien (p44) — oor Ma se dronk klavierspel. Sarkastiese deernis.
"Afrika is wreed. Hier's leeus." Braam (Hoofstuk 4) — sê vir Lien sy moet ophou met selfbejammering. Almal kry swaar.
"Wat is 'n huis sonder 'n moeder?" Op die Bart Simpson-beker wat Braam by die vlooimark vir Ma gekoop het. Ironies — hul huis ís sonder 'n ma. (Titel van Hoofstuk 13.)
"Is dit nou hier waar die haan moet kraai?" Lien (p35) — Bybelse Petrus-verwysing: wonder of sy haar pa verloën deur te sê sy ken geen prokureur nie.
"Something for the poor, my koning." Sproet / Gordon (Hoofstuk 28) — ná Tibbey se ongeluk. Suggestiewe woorde wat sy ware bedoeling onthul.
"Jy collect mos vir Tibbey." Wouter — wys hoe Lien stiltyd alles vir Tibbey doen, selfs nadat hy oor haar geheim weet.
"You are a true friend, Lieen Djôste, a real blerrie friend." Tibbey aan Lien (Hoofstuk 36) — nadat hy weer homself geword het ná die ongeluk. Bevestiging van hul vriendskap.
"Die wyndoos was my reddingsbaadjie." Ma in die kliniek (p225) — die wyn was haar redding én haar verdrinking. Beeld van die ambivalensie van verslawing.
"Niemand het vir niemand 'n geheim nie en niemand kan 'n 'pose' voor niemand hou nie. Almal is gelyk." Christien (p220) — les uit die kliniek; eggo van Lien se bedelervaring waar armoede geen klasse ken nie.
"Dinge gebeur. Ek het gedink ek is die slimste en sterkste mens onder die son. Daar was versoekings ... Ek was gulsig." Pa aan Lien in die tronk (Hoofstuk 40) — sy belangrikste belydenis. Erkenning, nederigheid, en die boek se tema van versoeking.
"Iets wat Picasso kon bedink het." Lien (titel van H32) — oor Hein se sketse vir Tibbey se karretjie. Kreatiwiteit en deernis saamgevleg.
"Jy is 'n great pel." Lien aan Roos (Hoofstuk 41) — by die opvoering. Erkenning van 'n onverwagte vriendskap oor klas en agtergrond.
"Kom, man, carpe diem!" Miemie aan Lien (Hoofstuk 19) — Miemie spoor Lien aan om die dag te gryp; tipies van haar lewenslus ten spyte van haar eie wanfunksionele gesin.
"Lien Jooste, jy is 'n dark horse." Wouter (Hoofstuk 34) — wanneer hy Lien se verborge dieptes en verrassende kante begin sien.
"Vrot, maar die ou donner moet seker ook maar eet soos ons almal." Roos oor Johnny (Hoofstuk 32) — wys Roos se deernis ondanks haar ergernis. Selfs die irriterendste mens verdien medelye.

7. Simbole en Motiewe

👟
Die Lankstaanskoene
Sagte, plat skoene van Pep (R38,99). Simbool van Lien se nuwe identiteit én haar vermoë om lank te staan deur swaarkry.
👓
Pruik en Brilletjie
Uit die rekwisietekamer. Vermomming, valse identiteit, beskerming — en die kunsmatige skeiding tussen "skool-Lien" en "straat-Lien".
🎒
Rooi sportsak
Berg haar bedelgeld; haar geheim; haar droomfonds vir oorsese reise.
🌼
Die kleur geel
Lien se eufemisme vir Ma se dronk-toestand. Ironies — gewoonlik die kleur van son, geluk, blydskap.
🦋
Wit skoenlapper
Land op Ma se hand in die kliniek (H39). Hoop, suiwering, nuwe begin, herrysing.
📼
Tuisvideo's
Verlede vs hede. Braam se ontvlugting. 13 videos plus voorspel en naspel — die kontras tussen wat was, en wat geword het.
🎹
Musiek
Klassiek (Prokofiëf "kakofonie", Chopin "traandruppel") = Ma se ontvlugting. Norah Jones = Lien se eensaamheid. "Moon River" = Hein se sentimentele kant.
🌳
Jakarandaboom
By die ou huis. Simbool van Pretoria, van onveranderlikheid, en van Lien se gewortelde herinneringe.
♿
Tibbey se Karretjie
Hein se gawe; Tibbey se herwinning van waardigheid. Konkrete bewys dat vriendskap die wêreld kan verander.
🍷
Dooswyn
Tegelyk Ma se "reddingsbaadjie" én haar verdrinking. Simbool van verslawing en selfbedrog.
🧹
Miemie se Besem-tattoeëring
Wicca-simbool: vroulike bemagtiging, ontvlugting, fantasie.
🌊
See (Naspel)
Teenoor die opblaaseendjie van die voorspel: kindertyd vs volwassenheid; klein wêreld vs oop horison.

8. Agtergrond & Konteks

Plek

Die roman speel hoofsaaklik af in Pretoria — die "jakarandastad". Werklike bakens word genoem (Uniegebou, Kerkplein), maar die meeste plekke is fiktief: Hoërskool Jakaranda, Tant Malie se Tuin, Millennium Hair Creations, die rolbalklub, die straathoek, die ou huis, die kliniek en die tronk. Kontras tussen ruimtes is belangrik — die klein woonstel, die ou welgestelde huis, Miemie se herehuis teen die berg, en die straathoek.

Tyd

Die handeling speel rondom 2005/2006 af — die FIFA Sokker-Wêreldbeker-bod is "sewe jaar gelede" gewen (in 2004). Die verhaal strek oor ongeveer 5–9 maande, hoofsaaklik Lien se matriekjaar in die tweede jaar van haar pa se tronkstraf. Die Naspel speel ± 2007 af.

Vertelstruktuur

Hoofsaaklik chronologies en in die teenwoordige tyd. Daar is egter 13 video-terugflitse (in skuinsdruk gedruk) wat die verlede toon — Braam is die fokalisator van hierdie tonele, Lien van die hede. Hierdie struktuur skep konstante kontras tussen "vroeër" en "nou".

Sosiale konteks

Bedelary by verkeersligte en straathoeke is 'n alledaagse stedelike verskynsel in Suid-Afrika. Die boek wys dat armoede geen kleurgrens ken nie (Roos is wit, Tibbey is swart en praat Sotho). Dit ondersoek klasseverskille tussen woonbuurte en sosiale strata. Kuifie se Madiba-hemp herinner aan post-1994 Suid-Afrika en politieke versoening.

Kulturele konteks

Die roman is vol verwysings na 2000's-popkultuur: Norah Jones, Black-Eyed Peas, Coldplay, Josh Groban, Julia Roberts, Bart Simpson, John Lennon, Pussycat Dolls — naas klassieke komponiste soos Prokofiëf en Chopin. Hierdie mengsel weerspieël Lien se eie tussen-wêrelde-bestaan.

9. Woordeskat

Sleutelwoorde en konsepte wat jy vir die eksamen moet ken:

AfrikaansBetekenis / Verduideliking
lankstaanskoeneNeologisme: "skoene waarin jy lank kan staan"
voorspelPrologue — die toneel voor die hoofverhaal begin
naspelEpilogue — die toneel ná die hoofverhaal eindig
meesterstukDie jaarlikse skooltoneelstuk (die "masterpiece")
oudisieVerhoogtoets vir 'n rol
bedel / bedelaarOm geld te vra op straat / iemand wat dit doen
rekwisietekamerKamer waar toneelitems geberg word
pruikVals hare
dooswyn / boks wynGoedkoop wyn in kartonboks
kliniekInrigting vir behandeling — hier vir alkoholisme
tronkGevangenis
trustgeldGeld wat 'n prokureur namens 'n kliënt hou
prokureurRegsgeleerde / attorney
versoekingIets wat jou dwing om die verkeerde te doen
vergiffenis / vergeweIemand "los" vir 'n verkeerde daad
ontvlugtingWegvlug van die werklikheid
disfunksioneelWerk nie reg nie ('n gebroke gesin)
deursettingsvermoëVermoë om aan te hou ten spyte van probleme
deernisDiep medelye en begrip
kakofonieWanordelike, harde, lelike klanke
traandruppelLetterlik 'n traan; ook Chopin se musiekstuk
ironieDie teenoorgestelde van wat verwag word
eufemismeSagter woord vir iets onaangenaams (bv. "geel" vir dronk)
stereotipeVaste, vooropgestelde idee oor 'n groep mense
fokalisatorDie karakter deur wie se oë ons die toneel sien
terugflitsToneel uit die verlede ("flashback")
matriekafskeidDie formele matriekdans
jakarandaBoom met pers blomme; Pretoria se simbool
rolbalklub"Bowls" klub waar Tibbey woon
afgevaardigdeVerteenwoordiger (uit Tibet) — titel van H17
neologisme'n Nuutskepping (soos die titel self)

10. Flitskaarte

Klik op die kaart om die antwoord te sien. Gebruik die knoppies om deur die kaarte te beweeg of ewekansig te skommel.

Kaart 1 van 35
Wie is die outeur?
Klik om te draai
Derick van der Walt
Klik om terug te draai

11. Blokraaisel

Vul die blokraaisel in. Tik in elke blokkie om 'n letter te plaas. Gebruik die knoppies om jou antwoorde na te gaan of die hele raaisel te onthul.

Dwars (Across)

    Af (Down)

      12. Eksamenvrae

      Vrae uit die Oosgrens-September 2023 P2-eksamen (Lien-afdeling). Lees eers elke teksuittreksel deeglik, en klik dan op "Wys antwoord" om die memorandum vir elke vraag te sien.

      TEKS G Vir vrae 4.1 – 4.10

      Lees die uittreksel hieronder deur en beantwoord die vrae wat daarop volg.

      Lien skryf byna outomaties "prokureur" op haar vormpie. Sy kyk verbaas na wat sy geskryf het. Prokureur. Dit klink vir haar skielik soos brandweerman of ruimtevaarder of speurder. Prokureur was al die jare die plan gewees, maar al-daai-jare is lankal verby. Sy oorweeg dit om die woord dood te krap en iets soos "tuisteskepper" of "sakkiepakker by Checkers" te skryf. Sy twyfel of meneer Bruwer sal dink dis snaaks. Sy wil eintlik "weg" skryf. Hoe kry 'n mens "weg" reg? * * * Lien land in 'n groepie made in hell. Die klein, maer Miemie Spies met die dik bril en die yl haartjies sal sy nog kan handle, al is sy weird verby. Dat Miemie in die regte belangstel, is moeilik om te glo, maar dis dalk moontlik. Die terterige Sally Swanepoel is 'n ander storie. Sy kan die meisie nie verdra nie, en te oordeel na die seuns se geskinder, sal Sally dit ná skool waarskynlik nie verder as Adéle's Escort Agency maak nie. Regte! En dan is daar Hein Venter. Lien kan nog nie oor Hein besluit nie. Hy lyk ouer as die ander seuns. Hy het al harde baard van jare se skeer. Hy is nie besonder lank nie, maar hy is baie fris. Dit laat hom groter lyk as wat hy is. Hy het 'n prominente neus. Blonde krulhare, bietjie kroeserig.

      — uittreksel uit Hoofstuk 2, "Jou standaard-skoolnommertjie"

      4.1 4 punte
      Voltooi: Lien-hulle is besig met 'n taak vir (4.1.1) ___ om oor hulle post-matriek (4.1.2) ___ navorsing te doen. Lien het gekies om prokureur te word omdat haar (4.1.3) ___ 'n prokureur is. Lien beplan om na matriek (4.1.4) ___ te gaan.
      Wys antwoord
      (4.1.1) Lewensoriëntering / LO • (4.1.2) beroepe / toekomsplanne • (4.1.3) pa • (4.1.4) oorsee
      4.2 2 punte
      Noem TWEE feite waarom Lien se plan om prokureur te word verander het.
      Wys antwoord
      Enige twee van: Pa is in tronk oor bedrog • Ontdek sy hou van drama • Geen geld • Wil wegvlug van omstandighede • Moet broer versorg • Ma verloor werk • Sy is kwaad vir pa.
      4.3 1 punt
      Was Lien negatief teenoor leerders in haar LO-groep? Motiveer.
      Wys antwoord
      Ja — sy oordeel hulle voor sy hulle ken; sy is bang hulle verwerp haar oor haar pa; sy hou nie van Sally se gedrag nie.
      4.4 1 punt
      Lien was verbaas toe sy ___ se ouers ontmoet en hulle baie normaal voorkom.
      Wys antwoord
      Hein
      4.5 1 punt
      Lien word vriende met Miemie omdat Miemie haar na die ___ nooi vir haar verjaarsdag.
      Wys antwoord
      Wimpy
      4.6 2 punte
      Waarom was Lien nie gretig om vriende met Miemie te raak nie?
      Wys antwoord
      Sy is skaam vir haar huislike omstandighede (drinkende ma, pa in tronk); skaam vir hoe hul huis lyk; sy is teruggetrokke.
      4.7 1 punt
      Hoekom dink Lien Miemie is "weird"?
      Wys antwoord
      Miemie het dun hare, dik brillense en sy is maer.
      4.8 1 punt
      Wat wil Hein se pa hê hy moet doen, en wat wil Hein self doen?
      Wys antwoord
      Hein se pa wil hê hy moet 'n prokureur word; Hein wil konstruksiewerk doen.
      TEKS H Vir vrae 4.11 – 4.19

      Lees die uittreksel hieronder deur en beantwoord die vrae wat daarop volg.

      "Hoe doen jy vandag?" probeer Lien 'n geselsie aanknoop. Roos sê niks nie. Sy teug aan haar sigaret en kyk vir die karre wat by hulle verbyry. Sy blaas die rook behaaglik in die lug. Sy staan op en trap die stompie met haar hak dood. Dan stap sy in die rigting van die sentrum se toilette. Lien volg haar traag. Sy kan nie verstaan waarom die vrou niks van haar hou nie. Sy wag vir Roos by die deur en hulle stap saam terug. Hulle praat nie 'n woord nie. Skielik begin Roos vinniger stap. Lien moet uithaal om by te hou. Roos buig vooroor en sy knyp die handsakkie al hoe stywer onder haar arm vas. Haar treë word al hoe langer. Sy lyk nogal soos 'n kameel op spoed. Lien kan eers nie verstaan wat aangaan nie, toe sien sy die mannetjie op haar hoek staan. Hy het 'n gryserige broek aan wat heeltemal te groot is vir hom en met 'n flenterbelt om sy middel geryg is. Sy groen hemp is verbleik en hy hou sy hand bak vir die karre wat verbyry.

      — uittreksel uit Hoofstuk 17, "Die afgevaardigde van Tibet"

      4.11 4 punte
      Plaas die volgende gebeure in die korrekte volgorde:
      A. Wouter bestuur Christien se kar van die skool af huis toe.
      B. Lien kry werk by die haarkappersalon.
      C. Lien kry vir Braam 'n borgskap by Dirkie en Donovan.
      D. Lien bedank by Tant Malie se Tuin.
      E. Sue-Ellen keer terug Millennium Creations toe.
      Wys antwoord
      1. D (Lien bedank by Tant Malie) → 2. C (Borgskap by Dirkie en Donovan) → 3. A (Wouter bestuur Christien se kar) → 4. E (Sue-Ellen keer terug)
      4.12 3 punte
      Waar woon Tibbey, en hoekom mag hy daar bly?
      Wys antwoord
      Hy bly in 'n buitekamer in die parkeerterrein/onder die akasiaboom van die rolbalklub. Hy werk 'n paar dae per week in die tuin om vir sy akkommodasie te betaal.
      4.13 1 punt
      Roos is 'n ___ vriendin. (Kies: A. selfsugtige B. dom C. lojale D. wrede)
      Wys antwoord
      C. lojale
      4.14 2 punte
      Verduidelik die ironie van die Johnny-situasie.
      Wys antwoord
      Dit was eers Johnny se staanplek wat Lien oorgeneem het; nou mag hy nie meer daar staan nie. Ook: Roos gesels gewoonlik nie met Lien nie, maar staan vir haar op teen Johnny.
      4.15 2 punte
      Wat het die bedelaars vir Lien geleer?
      Wys antwoord
      Tibbey: Kyk mense in die oë; sê asseblief en dankie. Roos: Kry regte (gemaklike) skoene; haar bord was te skoon en netjies.
      4.16 2 punte
      (4.16.1) Wat is Lien se uitdagings op straat? (4.16.2) Watter les leer sy daaruit?
      Wys antwoord
      (4.16.1) Hitte, uitlaatgasse, mense wat staar en haar beledig, mense kon haar as 'n prostituut sien, lang ure op haar voete.
      (4.16.2) As jy 'n visie het, moet jy deurdruk en nie die maklike pad kies nie.
      4.17 1 punt
      Wat het Lien se 18de verjaarsdag spesiaal gemaak?
      Wys antwoord
      Partytjie by tannie Bets; Wouter bring iets vir haar fonds; Miemie gee 'n CD/geskenk; Woolies-sap; Ma is vir die eerste keer uit die kliniek.
      4.18 1 punt
      Noem 'n karakter wat 'n groot impak op Lien gemaak het en motiveer.
      Wys antwoord
      Tibbey (leer haar bedel) • Hein (bou karretjie) • tannie Bets (kos, werk) • juffrou Breytenbach (sien potensiaal) • Wouter (ware vriend) • Miemie (goeie vriendin) • Dirkie (help met Tibbey).
      4.19 1 punt
      Hoe bewys Christien op die einde aan Lien sy is nog haar ma?
      Wys antwoord
      Sy speel weer klavier — sy keer terug na haar rol as klavieronderwyseres.

      Bykomende oefenvrae

      B1 3 punte
      Verduidelik die simboliek van die titel Lien se Lankstaanskoene.
      Wys antwoord
      Die "lankstaanskoene" is plat, gemaklike skoene wat Lien by Pep koop om vir ure op straat te kan staan en bedel. Op 'n dieper vlak simboliseer dit egter Lien se vermoë om lank te staan deur swaarkry, vernedering en hartseer — haar deursettingsvermoë. Die woord self is 'n neologisme (nuutskepping) wat die outeur saamgestel het uit "lank + staan + skoene".
      B2 3 punte
      Verduidelik die betekenis en konteks van die volgende aanhaling: "Die wyndoos was my reddingsbaadjie."
      Wys antwoord
      Christien sê dit vir Lien in die kliniek (H39). Dit beteken die wyn was tegelyk haar redding (dit het haar gehelp om die pyn van haar man se tronkstraf te oorleef) én haar verdrinking (dit het haar verslaaf, haar werk laat verloor en haar gesin verwoes). Dit wys die ambivalensie van verslawing en haar selfinsig dat sy nou moet vergewe — eers haarself.
      B3 4 punte
      Hoe ontwikkel Lien as karakter van die begin tot die einde van die roman?
      Wys antwoord
      Aan die begin is Lien bitter, kwaad, sarkasties en teruggetrokke. Sy haat haar pa, is skaam vir haar ma en wil net wegvlug oorsee. Deur die bedelary leer sy nederigheid en deernis (van Tibbey en Roos). Deur die drama (Weird Maria) ontdek sy haar ware roeping. Deur Miemie, Wouter en Hein se vriendskap leer sy om mense te vertrou. Aan die einde kan sy haar ma en pa vergewe, en haar droom verander van vlug-na-oorsee tot 'n positiewe nuwe rigting: drama by Tuks.
      B4 2 punte
      Wat is die funksie van die voorspel en naspel (die twee video's)?
      Wys antwoord
      Hulle vorm 'n raamvertelling. Die Voorspel wys die gelukkige verlede (Ma agter die kamera, twee kinders); die Naspel wys 'n nuwe geluk (Pa agter die kamera, vyf mense — Hein is nou deel van die gesin). Die kontras beklemtoon herstel, hoop en die boek se boodskap dat 'n nuwe begin moontlik is.
      B5 3 punte
      Verduidelik HOE die roman die tema "vergiffenis" ontwikkel.
      Wys antwoord
      Aan die begin is Lien onbevoeg om iemand te vergewe — sy haat haar pa, is bitter teenoor haar ma. Christien leer haar in die kliniek dat 'n mens eers jouself moet vergewe voordat jy ander kan vergewe. Pa erken sy gulsigheid in H40. Lien besoek beide ouers, luister, en versag. Teen die naspel is die gesin herstel — vergiffenis was die sleutel.

      DBE Mei/Junie 2026 – Vraag 4

      Vrae uit die DBE Mei/Junie 2026 P2-eksamen (Lien-afdeling, Vraag 4). Lees eers elke teksuittreksel deeglik, en klik dan op "Wys antwoord" om die memorandum vir elke vraag te sien. Totaal: 35 punte.

      TEKS G Vir vrae 4.1 tot 4.12

      Lees die uittreksel hieronder deur en beantwoord die vrae wat daarop volg.

      As I sit and watch the snow Fallin' down I don't miss you at all I don't miss you at all verduidelik Norah. Sy hou haar ma dop terwyl sy kou. Christien Jooste was eenmaal 'n beaut. Nou lyk sy oud en verwaarloos. Myle opgesit die laaste twee jaar. Sy het 'n slordige, vormlose bloes aan, en haar digte swart hare is ongekam. Sy gebruik nooit meer grimering nie. Haar ma se gesig is die ene Planet Euphoria. Dis nie net die wyn nie, weet Lien. Musiek kon haar ma nog altyd na aan die hemel bring, wyn ofte not. Dan bars die hel los. Die pianis is nou in vyfde rat en daar is geen sprake van 'n wysie meer nie. 'n Kakofonie van klanke, sê Lien in haar kop. Waar het sy dit onlangs gehoor? Ka-ko-fo-nie-van-klan-ke, sê sy stadig weer in haar kop. "'n Kakofonie van klanke," sê sy hardop. Haar ma hoor nie, of sy maak of sy nie hoor nie. Sy maak snaakse rukbewegings met haar kop op maat van die musiek. Haar oë is steeds toe. "Speel asseblief vir my iets," sê Lien op die ingewing van die oomblik. "Ma het eeue laas aan die klavier gevat. Speel vir my daai Schubert-ding wat Ma altyd net vir my gespeel het toe ek klein was," pleit sy byna.
      4.1 4 punte
      VOLTOOI die volgende paragraaf feitelik korrek deur die ontbrekende woorde uit die roman neer te skryf. Skryf slegs die EEN korrekte woord langs die vraagnommers (4.1.1 tot 4.1.4) neer. Lien en haar gesin het moeilike tye beleef. Hulle het in (4.1.1) … (stad) gebly, waar hulle nuwe leerders by Hoërskool Jakaranda moes wees. Lien het besluit om te begin werk. Tannie Bets het vir haar werk by tant (4.1.2) … se koffiewinkel gekry. Later werk sy vir Donovan en Dirkie by hulle (4.1.3) … Toe sy begin bedel, het sy haarself anders laat lyk met ’n (4.1.4) … en ’n brilletjie wat sy by juffrou Breytenbach geleen het.
      Wys antwoord
      4.1.1 Pretoria; 4.1.2 Malie; 4.1.3 (haar-)salon; 4.1.4 pruik.
      4.2 1 punt
      Wat het met Lien se pa gebeur voordat hulle in die woonstel gaan bly het?
      Wys antwoord
      Haar pa is gestraf vir bedrog (omdat hy sy kliënte se geld gesteel het). / Haar pa is tronk toe gestuur/opgesluit. (Enige EEN of soortgelyk aan bogenoemde)
      4.3 1 punt
      Waarom het Lien so graag na Norah se musiek geluister?
      Wys antwoord
      Norah se musiek het … Lien gehelp om die situasie tuis te hanteer. / haar van haar probleme laat vergeet. / Lien deur moeilike tye gehelp. / vir Lien hoop/antwoorde gegee. / Lien gekalmeer. / Lien laat voel dat die lirieke met haar praat/haar lewe verwoord. (Enige EEN of soortgelyk aan bogenoemde)
      4.4 1 punt
      Kies die KORREKTE antwoord om die sin mee te voltooi. “Myle opgesit die laaste twee jaar.” (Reël 7) Dit beteken dat Christien … A baie ver gery het om by die werk te kom. / B haarself nie versorg het nie en oud lyk. / C se motor wat baie oud was, probleme gegee het. / D swaarkry omdat sy alles in die woonstel moet doen.
      Wys antwoord
      B/haarself nie versorg het nie en oud lyk.
      4.5.1 1 punt
      Kies die KORREKTE antwoord uit dié tussen hakies. Lien ervaar innerlike konflik oor hulle huislike omstandighede, want (daar is nie goeie versorging in die huis nie/die plekkie waar hulle bly, is te klein).
      Wys antwoord
      daar is nie goeie versorging in die huis nie
      4.5.2 1 punt
      Motiveer jou antwoord op VRAAG 4.5.1.
      Wys antwoord
      Lien se ma het … nie kos gekoop/gekook nie. / die heeltyd gedrink. / niks vir Lien en Braam gedoen nie/nie tyd saam met die kinders deurgebring nie. / haar van die gesin onttrek. / min kos in die yskas gehad. / eerder wyn as kos gekoop. / haar rol as moeder van die huis op Lien afgeskuif. / veroorsaak dat Lien werk moes soek om vir haar en Braam te sorg. (Enige EEN of soortgelyk aan bogenoemde. Die antwoord op VRAAG 4.5.1 moet reg wees om die punt by VRAAG 4.5.2 te verdien.)
      4.6 1 punt
      Lien was kwaad en wou sommer haar ma se klavier verkoop. Waarom is dit reg dat Lien so gevoel het?
      Wys antwoord
      Lien se ma het glad nie meer gespeel nie. / Lien se ma het nie meer die klavier gebruik nie. / As jy iets nie gebruik nie, is dit beter om dit te verkoop. / Lien het gevoel dat haar ma geld kon maak deur klavierlesse aan te bied. / Sy kon geld kry vir die klavier om sodoende die finansiële las by die huis te verlig. / Die klavier het ’n simbool geword van ’n gelukkige verlede wat nie meer bestaan nie. / Lien was kwaad omdat haar ma in niks meer belanggestel het nie. / Lien het gevoel haar ma gooi haar talente weg. / Lien was teleurgesteld in haar ma/ongelukkig met haar ma. (Enige EEN of soortgelyk aan bogenoemde. Kandidaat kan fokus op die verkoop van die klavier of die gevoel daaroor.)
      4.7.1 1 punt
      “Musiek kon haar ma nog altyd na aan die hemel bring, wyn ofte not.” (Reël 11) Kies die KORREKTE antwoord uit dié tussen hakies. As gevolg van alles wat die afgelope twee jaar gebeur het, het Lien (partydig vir/diskriminerend teenoor) haar ma gevoel.
      Wys antwoord
      partydig vir
      4.7.2 1 punt
      Motiveer waarom dit geloofwaardig is as jy aan die afgelope twee jaar van Christien se lewe dink.
      Wys antwoord
      Lien het besef dat haar ma alles verloor het/deur baie uitdagings moes gaan. / Lien het gesien hoe swaar haar ma gekry het. / Lien kon die seerkry in haar ma sien. / Lien het probeer verduidelik dat haar ma nie altyd so was nie. / Lien het verstaan dat haar pa se dade skaamte/skuld by haar ma gebring het. / Emosionele probleme maak ’n mens oud. / Lien wou verduidelik dat musiek haar ma se enigste ontvlugting is. / Lien kon nog die mooi/goeie onthou. (Enige EEN of soortgelyk aan bogenoemde)
      4.8 1 punt
      Hoe kry Lien dit reg om jou as leser jammer vir haar te laat voel omdat Christien haar geïgnoreer het?
      Wys antwoord
      Ek voel jammer vir Lien, want … sy praat met haar ma oor musiek en noem dit kakofonie. / dit lyk of haar ma nie wil hoor wat sy sê nie. / Lien vra/smeek/pleit (asseblief dat haar ma vir haar iets moet speel). / sy gebruik die hiperbool/woorde “eeue gelede”. / Lien probeer haar ma aanmoedig om haar ou self te wees. / sy het haar versoek aan haar ma herhaal. / sy het die verhouding tussen haar en haar ma probeer verbeter. / haar ma se aksies het meer innerlike konflik by haar veroorsaak. (Enige EEN of soortgelyk aan bogenoemde)
      4.9 1 punt
      Waarom laat dit jou goed voel dat Lien alles moontlik probeer het om Braam te versorg?
      Wys antwoord
      Dit laat my goed voel, want Lien … het geweet hoe moeilik die situasie vir Braam was. / het geweet Braam sou niks van niemand vra nie. / as ouer suster behoort verantwoordelikheid te neem vir ’n jonger broer. / het die regte ding gedoen. / het Braam gehelp omdat daar niemand anders was om te help nie. / het sy behoeftes raakgesien. / het gewys dat sy baie lief was/omgegee het vir Braam. / het nie opgegee om Braam te help nie, al was dinge moeilik. / was onselfsugtig, het eerder in Braam se behoeftes voorsien. / het ingetree toe haar ma nie kon nie. / wou vir Braam teen vernedering beskerm. / het ’n goeie voorbeeld van hulp vir Braam gestel. (Enige EEN of soortgelyk aan bogenoemde)
      4.10 1 punt
      Kies die KORREKTE antwoord om die sin mee te voltooi. “Haar ma se gesig is die ene Planet Euphoria.” (Reël 10) Hiermee bedoel Lien dat haar ma in ’n … stemming was. A vrolike / B hartseer / C opgewonde / D aggressiewe
      Wys antwoord
      A/vrolike
      4.11 1 punt
      Wat was die direkte gevolg van Christien se drinkery op haar werk by Binnelandse Sake?
      Wys antwoord
      Christien … het haar werk begin afskeep. / het van die werk af begin wegbly. / het gemaak asof sy siek was om nie werk toe te gaan nie. / het haar werk verloor. / was afgedank. / het dalk by die werk ook gedrink. (Enige EEN of soortgelyk aan bogenoemde)
      4.12 2 punte
      Een van die lewenslesse in hierdie roman is om ander mense se hulp te aanvaar. Watter TWEE positiewe gevolge het dit vir Lien as hoofkarakter gehad?
      Wys antwoord
      Tannie Bets het vir hulle kos gemaak/hulle versorg. / Tannie Bets het vir Lien ’n agtiende verjaarsdagpartytjie gehou. / Tannie Bets het vir Lien werk gereël. / Dirkie het vir Lien gehelp om vir Tibbey op te spoor. / Dirkie het vir haar tee gemaak as dit sleg met haar gegaan het/’n vertroueling geword/’n geleentheid huis toe gegee, na werk/’n geleentheid hospitaal toe gegee vir besoektyd. / Wouter het haar gehelp om haar ma wat dronk skool toe gekom het, by die huis te kry. / Gerhard het haar ma kliniek toe laat gaan. / Gerhard het gehelp dat Lien skool suksesvol kon klaarmaak/se kerk het finansieel gehelp. / Miemie het haar ’n geleentheid huis toe gegee. / Hein het Lien met Tibbey se karretjie/blyplek gehelp. / Hein het Lien gehelp om Tibbey en sy karretjie huis toe te vat. / Roos het haar raad oor haar skoene gegee en dit het gewerk. / Dirkie en Donovan het twee keer vir haar werk gegee. / Juffrou Breytenbach het Lien haar passie vir drama laat ontdek. / Lien het geleer dat sy ander kan vertrou/positief oor mense kan voel. / Lien het besef dat daar mense is wat vir haar omgee. / Dit het Lien selfvertroue en dapperheid geleer. (Enige TWEE of soortgelyk aan bogenoemde)
      TEKS H Vir vrae 4.13 tot 4.20

      Lees die uittreksel hieronder deur en beantwoord die vrae wat daarop volg.

      Lien is half onwillig om haar veilige hawe te verlaat. Sy wens sy kan vir altyd hier bly. Dan sien sy haar ma. Sy kom vanuit die rigting van die kleedkamers aangestap en kyk onseker om haar rond. Wanneer sou sy uitgekom het? Sy het 'n swart broek en 'n toppie aan wat Lien nog nie voorheen gesien het nie. (Tannie Bets?) Sy lyk moeg. Haar gesig is maer en bleek. Haar hare is in 'n los bolla in haar nek. Sy vat 'n glasie vrugtesap op een van die tafeltjies en kyk weer om haar rond. Sou sy die vertoning gesien het? Tannie Bets waai vir haar ma, wat duidelik verlig in hulle rigting beweeg. Mathilda vat 'n blaaskans en staan op om vir haar 'n glasie koeldrank te skink. "Speel vir ons iets, Christien," hoor sy tannie Bets sê. Van die ander mense koer saam. Lien kan sien die aand is vir haar ma 'n stryd. Haar ma skud haar kop. "Ag tóé, Christien," hou tannie Bets aan. Haar ma huiwer. Dan slaan sy haar vrugtesap weg en sit haar handsak op die Steinway se klap neer. Daar is donker kringe onder haar oë. Sy sit eers 'n rukkie doodstil met haar oë op die klawers, vroetel dan onseker oor die note. Toe begin sy speel. Sy sukkel aanvanklik, dan begin sy met meer selfvertroue speel.
      4.13 4 punte
      Skryf die volgende VIER gebeure onder mekaar in die korrekte VOLGORDE neer soos wat dit in die roman gebeur. • Miemie het Lien na haar huis toe genooi. • Sally het Lien verras met haar optrede in die badkamer. • Roos het Lien gehelp om vir haar bedel op straat voor te berei. • Wouter en Lien het vriende geword.
      Wys antwoord
      1. Wouter en Lien het vriende geword. 2. Roos het Lien gehelp om vir haar bedel op straat voor te berei. 3. Sally het Lien verras met haar optrede in die badkamer. 4. Miemie het Lien na haar huis toe genooi. (Kandidaat verdien ’n punt vir elke gebeurtenis wat op die korrekte plek is.)
      4.14.1 1 punt
      “Lien is half onwillig om haar veilige hawe te verlaat.” (Reël 1) Kies die KORREKTE antwoord uit dié tussen hakies. Dit is ’n voorbeeld van (’n metafoor/personifikasie).
      Wys antwoord
      ’n metafoor
      4.14.2 1 punt
      Wat beteken dit binne konteks van die roman?
      Wys antwoord
      Vir Lien was die verhoog ’n veilige plek/haar gemaksone. / Lien het die toneelspel/verhoog baie geniet. / Lien het die rol as Weird Maria geniet. / Lien was gelukkig op die verhoog. / Lien kon hier van haar probleme ontvlug. / Die plek waar sy haar passie kon uitleef. (Enige EEN of soortgelyk aan bogenoemde)
      4.15 2 punte
      Lien het by die skool se toneelopvoering betrokke geraak. Noem TWEE voorbeelde van hoe die toneelruimte haar lewe by die skool positief beïnvloed het.
      Wys antwoord
      Lien het … vriende gemaak. / kon saam met Hein kuier/Hein beter leer ken. / haar ware passie in drama ontdek. / saam met die ander kinders partytjie gaan hou. / geweet sy kon nou net op haar matriekjaar fokus. / deel van die skool gevoel/meer positief oor die skool gevoel. / nuwe hoop gekry om haar drome te volg. (Enige TWEE of soortgelyk aan bogenoemde)
      4.16.1 1 punt
      “Wanneer sou sy uitgekom het?” (Reël 3) Waarna verwys Lien met “uitgekom”?
      Wys antwoord
      Lien verwys na haar ma wat uit die kliniek gekom het. (Of soortgelyk aan bogenoemde)
      4.16.2 1 punt
      Wat beteken Lien se vraag binne konteks van die roman?
      Wys antwoord
      Lien het … nie geweet dat haar ma uit die kliniek was nie. / daarmee gewys dat sy en haar ma nog nie op ’n goeie plek was nie. / nie eers geweet dat haar ma daar sou wees nie. / met die retoriese vrae gewys dat sy nog twyfel aan haar ma se gesondwees. / met skok/verbasing besef dat die tyd vinnig verbygegaan het. / emosionele wroeging ervaar toe sy haar ma gesien het. / skuldig gevoel dat sy nie op hoogte was met haar ma se vordering/rehabilitasie nie. (Enige EEN of soortgelyk aan bogenoemde)
      4.17 1 punt
      Na hierdie aand kon Lien aangaan met haar toekomsplanne om ’n prokureur te word. Gee ’n feit uit die roman om te sê waarom hierdie stelling ONWAAR is.
      Wys antwoord
      Lien het besluit om drama te gaan studeer. / Lien het al lankal vir haar pa gesê dat sy nie meer ’n prokureur wou wees nie. / Lien het in die naspel ’n T-hemp gedra wat sê “…uks drama”. (Enige EEN of soortgelyk aan bogenoemde)
      4.18.1 1 punt
      Baie van die karakters se optrede is ironies. Kies die karakter se optrede uit KOLOM B wat by die stelling in KOLOM A pas om dit ironies te maak. Tibbey het vir Lien geleer om in moeilike tye te lag, maar hy … A het toe die krieketspan geborg. / B wat haar die kans gegee het om op haar skoolwerk te fokus. / C het self depressief geraak ná die ongeluk. / D het gehelp toe niemand anders wou help nie. / E het weer ’n kans geskep om geld te verdien.
      Wys antwoord
      C/het self depressief geraak ná die ongeluk.
      4.18.2 1 punt
      Lien het gemaak asof sy nie omgee nie, maar sy … A het toe die krieketspan geborg. / B wat haar die kans gegee het om op haar skoolwerk te fokus. / C het self depressief geraak ná die ongeluk. / D het gehelp toe niemand anders wou help nie. / E het weer ’n kans geskep om geld te verdien.
      Wys antwoord
      D/het gehelp toe niemand anders wou help nie.
      4.18.3 1 punt
      Braam was negatief ingestel teenoor Millennium Creations, maar hulle … A het toe die krieketspan geborg. / B wat haar die kans gegee het om op haar skoolwerk te fokus. / C het self depressief geraak ná die ongeluk. / D het gehelp toe niemand anders wou help nie. / E het weer ’n kans geskep om geld te verdien.
      Wys antwoord
      A/het toe die krieketspan geborg.
      4.18.4 1 punt
      Lien was negatief teenoor Kuifie se belangstelling in haar gesin, maar dit was hy … A het toe die krieketspan geborg. / B wat haar die kans gegee het om op haar skoolwerk te fokus. / C het self depressief geraak ná die ongeluk. / D het gehelp toe niemand anders wou help nie. / E het weer ’n kans geskep om geld te verdien.
      Wys antwoord
      B/wat haar die kans gegee het om op haar skoolwerk te fokus.
      4.19 1 punt
      “Sy sukkel aanvanklik, dan begin sy met meer selfvertroue speel.” (Reël 15) Waarom kan jy verstaan dat Christien in hierdie situasie só sukkel?
      Wys antwoord
      Ek kan dit verstaan, want … as ek so lanklaas voor mense gespeel het, sou ek ook bang gewees het. / ek sou ook bang gewees het (vir die ander mense se reaksie). / ek sou nie geweet het hoe my kinders sou voel nie. / as ek nou net uit die kliniek gekom het, sou ek ook eers moed moes bymekaarskraap. / ek sou wonder of ek nog kon speel. / sy het min selfvertroue gehad. / dit is moeilik om voor vreemdelinge te speel. / ek moet eers my emosies onder beheer kry. / onsekerheid het my talent aanvanklik oorheers. (Enige EEN of soortgelyk aan bogenoemde)
      4.20 1 punt
      Jy moet mense aanvaar vir wie en wat hulle is. Waarom pas die titel, Lien se Lankstaanskoene, by hierdie tema in die roman?
      Wys antwoord
      Lien het besef dat alles nie altyd is soos jy dit sien nie. / Lien moes leer om mense (soos Roos, Johnny, Tibbey en Sally) te aanvaar/probeer verstaan. / Lien het empatie met mense aangeleer, want mense het dit vir haar ook gegee. / Lien moes leer om haar pa vir sy foute te vergewe. / Lien het begin verstaan wie haar ma regtig was. / Sy het begin verstaan hoekom Braam opgetree het soos wat hy het. / Miemie se huislike omstandighede het haar laat besef dat almal probleme het, (al het hulle baie geld). / Lien moes besef dat daar nie ’n kitsoplossing vir haar probleem is nie en sy moet geduldig wees. / ’n Mens kan nie ander oordeel as jy nie hulle omstandighede ken nie. / Lien het haar bedelaarsvriende na die vertoning genooi. / Lien het besef dat almal probleme op hulle eie manier verwerk. / ’n Persoon se innerlike/menswees dra meer waarde as geld. / Lien het besef dat almal nie net sleg in hulle het nie. / Lien het besef dat almal net mense is, ongeag omstandighede en klas. (Enige EEN of soortgelyk aan bogenoemde)

      Bron: Afrikaans EAT V2, DBE Mei/Junie 2026, Vraag 4

      13. Studie- & Eksamenwenke

      Wenk: Vir kontekstuele vrae oor 'n roman, lees die uittreksel twee keer voordat jy enige vraag beantwoord — die eerste keer om die toneel te begryp, die tweede keer om besonderhede raak te sien.
      1. Karakters in jou kop: Maak seker jy weet wie elke karakter is, wat hul rol is en hoe hulle deur die boek ontwikkel. Skryf 'n kort beskrywing van 3–4 sinne vir elkeen.
      2. Belangrike tonele: Onthou waar in die boek belangrike gebeurtenisse plaasvind. Eksamenvrae verwys dikwels na 'n spesifieke hoofstuk of toneel.
      3. Aanhalings: Leer minstens 10 aanhalings + wie dit sê + wat dit beteken. Dit bring volpunte in oop-eindigende vrae.
      4. Tema-vrae: By eksamenvrae oor temas — gee altyd 'n voorbeeld uit die teks om jou antwoord te bewys. Geen abstrakte antwoorde nie.
      5. Ironie en simboliek: Wees gereed om die simboliek van die skoene, die pruik, die kleur "geel", en die videos te verduidelik.
      6. Sleutelwoorde in vrae: "Noem" → kort feit. "Verduidelik" → gee rede. "Bewys met aanhaling" → gebruik die teks. "Motiveer" → gee jou rede in jou eie woorde.
      7. Punte = sinne: 'n 2-punt-vraag verwag minstens 2 feite/sinne. 'n 4-punt-vraag = 4 punte.
      8. Pas-aan-vrae: Lees die hele lys deur voordat jy enige antwoorde merk. Begin met die maklikste.
      9. Volgorde-vrae: Skryf elke gebeurtenis op 'n stuk kladpapier; pak hulle dan in jou kop chronologies.
      10. Tyd: Bestuur jou eksamentyd — moenie te lank by een vraag draal nie.

      Vinnige geheue-aansporings

      Onthou hierdie kort akronieme: